Slide background
Slide background
Slide background
Slide background
Slide background
Slide background
Slide background

2018 Toekennings

 

SKOOLHOOFDESKILD VIR LEERDER VAN DIE JAAR - Danie Theron

Danie het ʼn gemiddeld van 89.3% oor die afgelope vier eksamens gehandhaaf. Hy het aan die Bio Science-olimpiade, sowel as aan verskillende Wiskunde-olimpiades, deelgeneem.

Hy skryf ook vir die afgelope drie jaar die strawwe SA Taalbond se tweetaligheidseksamen. Danie se optrede is reëlreg in lyn met sy Christelike oortuigings en by FUEL het hy op sy kenmerkende kalm manier sy geloof in God uitgeleef.

Reeds vroeg in sy skoolloopbaan het Danie die belangrikheid van tydsbestuur besef. Hierdie eienskap het hom in staat gestel om op baie terreine uit te styg deur puik te presteer. Sy kritiese denke en gedissiplineerde en vasberade lewensuitkyk onderskei hom van ander jongmense.

Danie was vir drie jaar ʼn gewaardeerde lid van die eerste seunshokkiespan. As junior speler in die eerstespan het hy reeds getoon dat hy met net die beste tevrede is en dat hy homself sal bewys. Hy was altyd passievol en hardwerkend – op en af van die veld. As onderkaptein was hy altyd ʼn navolgenswaardige leier wat met sy goeie oordeel die spel kon lees en het daarom ʼn rustigheid in die span gebring. Ten spyte van sy uiters besige akademiese program en ekstra vak, was hy altyd getrou op sy pos en kon ʼn mens op net sy allerbeste staatmaak.

Sy diplomatiese styl as hoofseun was opvallend, sowel as sy sin vir regverdigheid en empatie met sy

medemens. Hy was deeglik in die beplanning en die uitvoering van sy take. Sy bydrae as lid van die beheer­liggaam van Hoërskool Strand was altyd deurdag en sinvol. Danie het nie kanse om te ontwikkel laat verbygaan nie en het ook die ATKV-jeugleierskonferensie bygewoon.

Sy opregtheid hoef nooit in twyfel getrek te word nie. Danie het altyd tyd gemaak vir ʼn aangename, vriendelike gesprek en ʼn opbeurende woord vir diegene wat dit nodig het. Sy unieke humorsin en glimlag kon ʼn moeilike dag sommer ligter maak. Wat van Danie uitstaan, is dat sy optrede deurgaans van ʼn opgevoede, afgeronde jongman getuig.

Hierdie is voorwaar ʼn uithaler-uitblinker leerder van Hoërskool Strand wat die gesogte Skoolhoofdeskild vir Leerder van die Jaar verdien.

 

ROTARIËRS WISSELTROFEE VIR VEELSYDIGHEID - Gunter Möhr

Gunter het ʼn gemiddeld van 88.68% oor die afgelope vier eksamens gehandhaaf. Hy het aan verskillende Wiskunde-, sowel as aan die Bio Science- en RTT-olimpiades deelgeneem.

Hoewel hy die afgelope twee jaar spesifiek op die rugbyveld uitgeblink het, is Gunter ʼn besonder veelsydige sportman. In die jaar of twee wat hy sy aandag op hamergooi toegespits het, het hy in die kort tydjie meer vermag as baie ander atlete wat al hul aandag daaraan wy.

Op die rugbyveld het hy homself vir die afgelope twee jaar in die eerste rugbyspan onderskei.

Hy het vir geen speler teruggedeins nie. Sy intelligente manier van speel het meegebring dat hy ʼn besonder waardevolle speler in die span was. Gunter het deurentyd deur sy voorbeeld gelei.

Sy sterk leierseienskappe en gewildheid was voorts duidelik sigbaar in die posisies wat hy beklee het. As voorsitter van die sportportefeulje van die VRL was Gunter die een wat gereeld die pas aangegee het, sowel as beredeneerde leiding aan die beplanning van aktiwiteite gegee het. As lid van die verwelkomings-komitee het die kuikens wat aan sy sorg toevertrou is, gou tuis en geborge gevoel omdat Gunter hulle lewens opgevrolik het. As leier openbaar Gunter die vermoë om beide gesag te aanvaar, sowel as om op ʼn motiverende manier leiding te neem. Hy was altyd bereid om inisiatief te neem en die ekstra myl te loop.

Sy kritiese en ondersoekende denke sonder hom uit. Hy kan opgewonde raak oor ʼn les of ʼn konsep wat hom interesseer en huiwer nie om sy waardering teenoor ʼn onderwyser uit te spreek nie. Ten spyte van sy bedrywige buitemuurse program lewer hy steeds akademiese werk van hoë gehalte.

Gunter geniet die lewe ten volle terwyl hy ʼn gesonde balans handhaaf. Hy sal veral onthou word vir sy medemenslikheid, geestigheid en sjarme. Hierdie is ʼn jongman op wie ʼn mens altyd kan staatmaak. Hy is voorwaar ʼn waardige ontvanger van die Wisseltrofee vir Veelsydigheid.

 

PIETER KOEN-BEKER VIR VOLHARDING EN DEURSETTINGSVERMOË - Ryan Osborne

Hierdie is ʼn jong man wat weet wat hy uit die lewe wil hê en bereid is om baie hard te werk om dit te bereik.

Ryan was van graad 8 af ʼn leerder aan die Hoërskool Strand, maar in die middel van sy graad 11-jaar moes hy skool staak as gevolg van baie moeilike omstandighede buite sy beheer. In die ses maande wat hierop gevolg het, moes hy groot persoonlike struikelblokke oorkom, maar hy het hom nie laat onderkry nie.

In Januarie van die volgende jaar besluit hy om terug te kom skool toe en graad 11 te herhaal.

So ʼn besluit is nooit maklik nie omdat jy dan in ʼn laer graad as jou vriende is, jou trots moet sluk en die lewe vierkantig in die oë moet kyk.

Hy het weer betrokke begin raak by buitemuurse aktiwiteite en sy potensiaal 100% benut. Deur toegewyde studie en ʼn duidelike doel voor oë het sy akademie al meer floreer en vandag is hy onder die top 10 leerders in matriek.

Sy liefde vir mense en sy bereidheid om ander te help word duidelik in sy betrokkenheid by Ti amo waar hy leiding neem, bemoedig en ondersteun waar hy kan.

Sy onberispelike maniere en betroubaarheid laat hom uitstaan bo baie ander. Ryan beplan om in 2019 onderwys te studeer.

Baie mense wat in soorgelyke omstandighede verkeer, sou eenvoudig net moed opgee. Hy het ʼn tree vorentoe gegee en kanse met dankbaarheid aangegryp.

Die Franse komponis, Saint-Saens, het by geleentheid die volgende wysheid kwytgeraak: “A difficulty over­come, is a thing of beauty” en Ryan se lewe spreek hiervan.

HS Strand eer sy voorbeeld met hierdie toekenning en is trots om hom ʼn Arend te noem.

Kontak ons

Tel: 021 853 1056
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Skakels

AWSUM

HS Strand verskyn in die AWSUM-koerant wat in die Helderberg versprei word by alle Hoërskole en Laerskole wat daarin verskyn.

Arendenuus Nuusbrief

Hoërskool Strand se maandelikse nuusbrief.

Suidooster Skoolkoerant

Kwartaallikse aanlyn skoolkoerant

MySchool Aansoekvorm